Die Storie Van Die Wandelpad
Vir dae al is jy al op die wandelpad en terwyl jy besig was om te loop, kruip, spring en klouter het jy nie juis behoorlik tyd gehad om na die natuurskoon rondom jou te kyk nie.
Jy is egter nou vir eers te moeg om verder te gaan na jy die duiselingwekkende kloof agter jou oorgesteek het en sit en rus.
Terwyl jy iets eet en jou spiere begin ontspan staar jy na die natuurskoon rondom jou met 'n stille vrede wat maklik in sulke situasies kom.
Hier waar jy sit kyk jy terug oor die kloof wat jou so uitgemergel het en dit bring onwillekeurig 'n glimlag op jou gesig met die wete dat jy die kloof wat so onoorbrugbaar gelyk het oorwin het.
Die kloof in sy skrikwekkende diepte vorm 'n pragtige prentjie teen die groter uitgestrektheid van bos en grasveld, verskeie kronkelende stroompies wat na die rivier toe vloei teen 'n kontraserende agtergrond van harde klip en sagte groenigheid en as jy omdraai en na die stywe bult wat voor jou le begin jy wonder watter skoonheid daaragter wag en raak skielik haastig om weer in die pad te val.
Wanneer jy dan sommer ook opstaan om die stywe bult aan te durf val jou oog egter op jou metgesel wat moeg en vreesbevange net reguit na die grond toe staar.
Jou gedagtes gaan terug na die afgelope paar dae waar julle met dieselfde pad langs gekom het maar was elke stroompie, klip en bos 'n probleem en struikelblok vir jou metgesel en het jy deurentyd groot moeite gehad om die negatiewiteit hok te slaan en jou metgesel sover te kry om die "struikelblok" saam met jou aan te pak.
Jy kan dit nie regtig verstaan nie want jou metgesel is tog fisies amper net soos jy gebou en net so fiks maar dit is asof die moegheid eenvoudig net te veel is terwyl jyself voel of jy sommer die volgende stywe bult kan uithardloop om te kyk wat daar anderkant le.
Wanneer jyself dan moeg en moedeloos gaan sit besef jy skielik wat is die werklike probleem.
Die probleem is nie fisiek of enigiets anders van aard nie maar geestelik en emosioneel want het jyself dit nie presies nou ervaar in die skielike moeg en moedelose gevoel wat oor jou spoel met die gedagte aan NOG 'n gesukkel om jou metgesel sover te kry om die volgende skof aan te pak nie?
Ons hele lewe is 'n wandelpad wat ons eenvoudig net moet voltooi en dit is nie ons uiterlike, omstandighede, ons omgewing of enigiets nie, maar ons innerlike, ons sielkundige en emosionele ingesteldheid daarteenoor, wat op die ou end ons gelukkigheid of ongelukkigheid met waar ons IS en wat voor ons le bepaal.
Daarom dan gaan sit en dink weer en dink of dit wat agter jou le jou gaan onderkry sodat jy nie kans sien vir dit wat voorle nie of dat dit juis as aansproring gaan dien vir dit wat voor jou le en jy tog alreeds die ergste oorwin het nie?