Die werksfonteintjie
Op 'n draai in die pad kom 'n mens skielik op hom af. 'n Verrimpelde grysbaard wat langs die pad onder 'n koelteboom sit en groente verkoop. 'n Skrille kontras met die dorre verlatenheid sover die oog kan sien. Of 'n reisiger nou groente nodig het of nie, feitlik sonder uitsondering het die een na die ander moee reisiger daar gestop, so bietjie onder die koelteboom gaan sit en gesels en weer die pad gevat, groente onder die arm of 'n glimlag op die gesig.
Vir die mense naby hom was die grysbaard 'n legende, die voorsiener van hulle groente en vertroosting gedurende die jare van dorste en teistering.
Op 'n helder lente oggend het die nuus soos 'n veldbrand versprei, die grysbaard was weg en die hangmatte met groente leeg behalwe vir hier en daar 'n blaar of verlepte skil.
Van heinde en ver het mense gekom om te help soek en tot hulle verstomming 'n klein fonteintjie oor die bult ontdek.
In 'n rowwe handskrif is die woorde op 'n bordjie uitgekerf. "Die Werksfonteintjie"
Die dae het maande geword en later jare.
Dikwels het reisigers verbygegaan en gewonder wat van die grysbaard geword het. Die boom het verdor en die mense het honger gely en menig sug van verlange na die grysbaard, sy groente en sy geselskap in die koelte het opgegaan.
Dinge het al hoe slegter en slegter gegaan en uit desperaatheid het die mense boodskappers na alle windrigtings uitgestuur om almal na 'n volksberaad te nooi.
Die volksberaad was in volle gang, in hewige debat en oor en weer gesprek toe grysbaard tot almal se verstomming te voorskyn kom, op 'n skotskar klim en almal toespreek.
"Vir baie jare het ek julle gehelp, gevoed, geleer en 'n werksfonteintjie nagelaat sodat julle in my voetspore kan volg, iemand die werk oorneem om die boom van water te voorsien, elkeen van julle uit die waterfonteintjie kan skep en julle eie tuintjies plant, julself voed en julle kinders leer om dieselfe te doen"
Kopskuddend kyk die ou grysbaard stadig oor die plein voor hy vervolg.
"Maar helaas, soos skape het julle gesit en wag vir die herder, gewag dat ek die groente verskaf, die werk moet doen, alles doen wat julle veronderstel is om self te doen, want die lewe skuld niks en niemand enigiets nie en elkeen is verantwoordelik vir sy eie lewe en indirek sy naaste en daarom dan dat daar ook geskrywe is. Hy wat vir sy naaste nie sorg nie, veral sy huisgenote, is slegter as 'n ongelowige"
"Die werksfonteintjie is daar vir almal maar dit was ek, 'n ou man, wat hom gebruik het deur self te werk en ryk te word uit ander mense se luiheid, se twyfel, se weet nie hoe nie. Daardie fonteintjie is nog daar en sal ook altyd daar wees vir die wat daarvan gebruik WIL maak en die daad by die geloof voeg en hierdie volksberaad is nutteloos en doelloos daarsonder"